TRANSKULTURELE / KRUISKULTURELE VERSORGING VAN KINDERS
Aannemings oor die kleurgrens heen is hier in Suid-Afrika aan die toeneem. Sowat 100 van die min of meer 1 900 aannemings per jaar word oor die kleurgrens gedoen. Dit blyk dat dit veral wit paartjies is wat bruin of swart kinders aanneem omdat wit babas bykans nie vir aanneming beskikbaar raak nie. Dieselfde tendens doen hom ook voor waar kinders in pleegsorg of plek van veiligheid geplaas word.
Daar is basies twee denkrigtings oor die versorging van kinders oor die kleurgrens heen:
Eerstens dié wat van mening is dat as jy ‘n kind oor die kleurgrens heen plaas, lewer jy hom vir die res van sy lewe uit vir die “anders wees” wat hy in sy nuwe omgewing gaan ervaar.
Tweedens is daar die denke dat die samelewing reeds so geïntegreerd is dat dit nie meer ‘n probleem sal wees nie.
In Amerika is daar baie meer wit gesinne wat bereid is om swart kinders aan te neem “... but the controversy over race-mixing has kept thousands of black children in foster care .... The National Association of Black Social Workers has hindered the transracial adoption process by calling it “cultural genocide”. (The New Republic, January 1994, p.6).
Die uitgangspunt by die plasing van enige kind in alternatiewe sorg is dat dit te alle tye in belang van die kind moet wees. Wetenskaplike ondersoeke het aan die lig gebring dat ouers wat ‘n kind oor die grens van ras-, etnisiteit- of kultuur in hul huishouding wil opneem, oor onder andere die volgende aspekte absolute duidelikheid moet verkry:
Eerstens ondersoek u houding ten opsigte van ras en etnisiteit - enige vorm van vooroordele gaan struikelblokke op u weg plaas.
Tweedens aanvaar dat u en u gesin as “anders” (different) gesien gaan word. Dit is nie net die kind wat in u sorg geplaas word wat anders gaan wees nie maar u hele gesin gaan “anders” word. Sommige mense is gemaklik met hierdie “andersheid” terwyl andere weer “ongemak” hiermee beleef. Die hele gesin, dus die ouers en hul biologiese kinders, sal deurlopend die nodige vaardighede moet bemeester om met ras- en/of etniese vooroordele vanuit die skool, kerk en gemeenskap te handel.
Derdens moet u die vraag beantwoord of u en u gesin se huidige lewenstyl bevorderlik vir so ‘n plasing is, byvoorbeeld woon u reeds in ‘n geïntegreerde buurt? Indien nie, is u bereid om na so ‘n woonbuurt te trek? Het u reeds ‘n vriendekring bestaande uit verskillende ras- of etniese groepe? Besoek u laasgenoemde aan huis op ‘n gereelde basis? Woon u multi-kulturele feeste by? Geniet u verskillende etniese of kulturele groepe se voedselvoorkeure? Dit is belangrik vir kinders om volwasse rolmodelle van hul eie ras of etniese groep te kan waarneem. Die vraag is: kan en sal die gesin wat so ‘n kind oor die kleurgrens in hul sorg neem vir hierdie kind in voorgemelde sake voorsiening maak?
Die volgende ouerskapsvaardighede is van uiterste belang waar ‘n kind oor die kleurgrens heen in ‘n gesin opgeneem word:
Familie en vriende se instemming, goedgesindheid en ondersteuning vir die versorging van so ‘n kind binne u gesin is van die uiterste belang. Die opname van so ‘n kind moet nie tot familietwis en/of verlies van vriende bydra nie want dit kan vir hierdie kind en vir u as gesin baie nadelig wees.
Die saak van geloof en geloofslewe is ook van kernbelang. Die kind behoort steeds blootgestel te word aan die geloof waaraan hy reeds vir ‘n tydperk blootgestel was, byvoorbeeld Hindoe, Rooms Katoliek, Christen, en so meer.
Die volgende kan rigtinggewende vrae wees om te antwoord voordat u ‘n kind oor die kleurgrens in u huishouding sal inneem:
Kinders het sekere basiese regte wat deur wetgewing soos die Grondwet 108/96 beskerm word. Hierdie regte van kinders geld uit die aard van die saak ook vir dié wat oor die kleurgrens by ouers geplaas word. Indien ‘n gesin so ‘n kind opneem moet ook met hierdie regte deurlopend rekening gehou word:
Om ‘n kind oor die kleurgrens heen in ‘n gesin te versorg, ongeag of so ‘n kind wit, swart, bruin of Indiër is, is nie ‘n eenvoudige taak nie. Daarom vra so ‘n aangeleentheid die nodige erns, besinning en deeglike selfondersoek van die kant van die gesin wat so ‘n kind wil inneem. ‘n Kind behoort nie deur ‘n ander gesin versorg te word bloot op grond van emosionele gevoelens en jammerhartigheid nie - dit moet werklik gaan oor die beste belang van die kind wat in die huis opgeneem word. Vir hierdie kind sal die huishouding in geheel aanpassings en opofferings moet maak en indien dit nie gebeur nie is so ‘n gesin nie ernstig met die versorging van die kind en sy toekoms nie.
Dr J F P Engelbrecht
Uitvoerende Bestuurder: DPS-sisteem