Omsendbriewe

 

27 Januarie 2006

OMSENDBRIEF: ADV 10/2006

Aan:

Die Skriba
Ringsdiakensvergadering

Geagte Br/Sr

DIE TOEPASSING VAN DIE ROTASIEBEGINSEL

 

Ordereël 3.6.3 (ix) van die Kerkorde bepaal die volgende:

“Kies uit die aanwesige stemgeregtigde diakens van die ring ‘n voorsitter en skriba, met inagneming van die beginsel dat ‘n diaken nie meer as drie jaar na mekaar as voorsitter of skriba gekies sal word nie.”

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het sy toestemming gegee dat die rotasiebeginsel ten opsigte van die Diakens- en die Ringsdiakensvergadering “verslap” mag word.

Die praktiese implementering van die rotasiebeginsel word egter nie altyd korrek volgens die gebruike in die kerk (usus sanctus) gehanteer nie. Daar was in die verlede Ringsdiakens-vergaderings waar die voorsitter vanuit die voorsitterstoel self besluit het dat die beginsel toegepas of nie toegepas sal word nie. Hierdie praktyk lei inderdaad tot ontevredenheid by die afgevaardigdes na ‘n vergadering.

Die Kommissie van die ADV wil graag die volgende riglyne aan u deurgee oor die moontlike praktiese implementering van die rotasiebeginsel

DIE PRAKTIESE TOEPASSING VAN DIE ROTASIEBEGINSEL – ORDEREëL 3.6.3 (IX)

  1. Dit is net goeie praktyk dat ‘n Kommissie van die RDV vooraf duidelikheid sal kry oor watter diakens deur die rotasiebeginsel geraak gaan word.
  2. Ter wille van deursigtigheid behoort daar ‘n plek vroeg in die agenda ingeruim te word waar hierdie inligting vooraf aan die vergadering bekend gestel word.
  3. Indien die rotasiebeginsel moet “inskop” moet die voorsitter van die vergadering dit so toepas soos voorgeskryf in Ordereël 3.6.3 (ix).
  4. Indien die vergadering van mening is dat die beginsel verslap moet word mag hulle as vergadering hulle beroep op die besluit van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering dat die rotasiebeginsel verslap mag word net ten opsigte van verkiesings wat moet plaasvind in 2006.
  5. Die regte prosedure sou soos volg wees:
    • ‘n Stemgeregtigde lid van die vergadering moet ‘n orde mosie indien waarin die vergadering versoek word om die verslapping van die rotasiebeginsel te bespreek
    • Die steller van die mosie kry dan ‘n baie kort spreekbeurt om die mosie te motiveer.
    • Die voorsitter laat die vergadering dan stem oor die mosie. Indien die meerderheid van die stemgeregtigdes die mosie aanvaar kan die saak oop- gestel geword vir bespreking.
    • Indien die meerderheid van die stemgeregtigdes teen die orde mosie stem beteken dit die mosie word nie aanvaar nie en die rotasiebeginsel word onverkort toegepas.
    • Indien die orde mosie aanvaar sou word gee die voorsitter die vergadering ‘n geleentheid om die toepassing van die rotasiebeginsel al dan nie te bespreek. Dit sou goed wees as die voorsitter vooraf met die vergadering ooreenkom oor hoeveel spreekbeurte hy gaan toestaan om die orde mosie te bespreek.
    • As die besprekings afgehandel is kry al die stemgeregtigdes dan die geleentheid om te stem vir die verslapping van die rotasiebeginsel al dan nie.
  6. Die meerderheid stem word dan die besluit van die vergadering.

Sterkte met die vergadering.

Groete in Christus

Dr WJ Coetzer
Sekretaris: Kommissie van die ADV