Omsendbriewe
08 Februarie 2006
OMSENDBRIEF: ADV 12/2006
Aan: Die Voorsitter
Kommissie van die RingsdiakensvergaderingGeagte Voorsitter
R2.50 PER LIDMAAT DIENSFOOI (HEFFING) AAN DIE ADV
Dit is weer my onaangename taak om met u te praat oor geld. In hierdie dae wat ons almal die rieme baie dunner moet sny is dit geen maklike en aangename taak nie. Veral nie as die geld op ‘n plek ver buite die grense van die gemeente aangewend moet word nie.
Ek het gedurende 2005 bewus geraak van die baie man-ure wat spandeer word om fondse vir die gemeentes in te samel om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Ken ‘n mens nie die gevoel van moeë hande en seer voete nie? Maar ek het ook baie lidmate teëgekom wie se blymoedigheid en vreugde die kommer en die swaarkry van ons ou aardse bestaan by verre oorskadu het.
Dit het egter ongelukkig weer hier in die aanloop na die Ringsdiakensvergaderings toe tyd geword om u te herinner aan die besluit wat by die laaste Algemene Diakensvergadering geneem was. Dit gaan oor die R2.50 per lidmaat per jaar wat ons begroot het om die diensstruktuur van die ADV te kan bekostig.
Die wyse waarop die diakens die aangeleentheid in 2005 hanteer het, verdien vermelding. Tot en met 31 Desember 2005 is ‘n bedrag van R221,842.83 ingesamel. Met die sensusgetalle van Augustus 2005 (111 197 lidmate) werk dit uit op ‘n bedrag van R2.00 per lidmaat. Skitterend! Daar is nie woorde om hierdie toewyding van die diakens te besing nie.
Wanneer het ‘n mens werklik vir die Here geoffer?
Ek het deur die loop van 2005 die voorreg gehad om te beleef hoe Jesus se vertelling van die arm weduwee weer waar geword het in die woorde en die dade van die diakens van ons kerk. “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Markus 12:43-44).
Baie dankie aan daardie manne en vroue wat in die geloof basaars gehou het en ander funksies gereël het om al hulle verpligtinge na te kom.
Ek het ongelukkig ook in 2005 lidmate beleef wat steun en been kla asof daar geen vreugde meer in hierdie lewe oor is nie. Alles is aan die einde van die dag net moeite en verdriet.
Maar gelukkig weet ons dat Jesus Christus lewe en ons die groot voorreg het om saam met Hom te leef.
Kan ek maar weer ‘n beroep op u doen om weereens die aangeleentheid met soveel verantwoordelikheid en toewyding af te handel?
In die jaarverslag van die Kommissie van die ADV word bepaalde riglyne gegee oor die moontlike hantering van die saak rondom die insameling van die R2.50 per lidmaat in 2006. U kan gerus maar daarna kyk.
Probeer om dit deel van u jaarlikse begroting vir die Ringsdiakensvergadering te maak. As gemeentes werklik nie R2.50 per lidmaat kan bekostig nie moet u aan hulle die geleentheid gee om aan te toon watter bedrag hulle gemaklik sou kon bekostig. Miskien is daar tog ‘n lewensles te leer uit Markus se metafoor van die arm weduwee.
Dankie dat ons altyd op u goedgesindheid kan staat maak.
Groete in Christus
Dr WJ Coetzer
Sekretaris: Kommissie van die ADV