Omsendbriewe
31 Maart 2006
OMSENDBRIEF: ADV 18/2006
Aan: Alle Gemeente Predikante
Geagte kollega
BEKENDSTELLING VAN PROJEK BARTIMEUS – MATT 20:29-34
Vir 59 jaar is die Nederduitsch Hervormde Kerk al deel van die Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys. Daar word in kort ook na hierdie instituut verwys as TOIBO. Die missie van TOIBO is as volg:
“Om leerders met spesiale onderwysbehoeftes in die vyf Instituutskole deur middel van fisiese hulpbronne en diens in staat te stel om hulle potensiaal te verwesenlik binne ‘n Christelike etos.”
Die volgende skole vorm deel van die Instituut:
- Transvalia-skool vir Epileptici
- Martie du Plessis Hoërskool vir Serebraal Gestremdes
- Sonitusskool vir Gehoorgestremdes
- Prinshofskool vir Blindes
- Transoranje-skool vir Dowes
Indien u meer visuele inligting verlang oor hierdie skole is u welkom om hulle webwerf te besoek by www.toibo.org.za
Die Kommissie van die ADV het op sy pas afgelope vergadering weer besluit om die finalejaar katkisante te betrek by die skole wat deel uitmaak van hierdie Instituut. Hulle het met hierdie besluit twee doelwitte voor oë gehad:
- Om die finalejaars bewus te maak van hoe bevoorreg hulle is om ‘n lewe as normale tieners te kan leef
- Om hulle betrokke te maak by ‘n projek waar hulle iets vir iemand kan doen sonder om iets in ruil daarvoor terug te ontvang.
In 2005 het die kinders ‘n pragtige bedrag van R5000.00 ingesamel vir die Instituut.
Ek neem die vrymoedigheid om u te vra of u nie die finalejaar klas van 2006 wil aanmoedig om aan projek Bartimeus deel te neem nie. Om spreekwoordelik die hand vas te hou van ‘n dowe-, blinde-, hardhorende- of serebraalgestremde kind bly ‘n ongelooflike ervaring vir enige mens.
Wil u nie in samewerking met die diakens en die kategesehoof, betrokke raak by projek Bartimeus nie?
Wat behels dit alles?
- U moet die finalejaar klas motiveer om betrokke te raak by die lotgevalle van hierdie kinders wat in skole van die Transoranje Instituut is.
- Motiveer hulle om op hulle eie ‘n projek te reël waar hulle spesifiek fondse insamel om die lotgevalle van hierdie kinders te help verbeter.
- Al samel hulle net R50.00 in, is dit geld wat ons nie gehad het nie. Inteendeel – die gedagte is meer werd as die fondse wat ingesamel word.
Bemarking
- Die kinders kan al hulle planne en projekte (veral digitale foto's) aan my e-pos by sekretaris@nhk-adv.org.za om op die diakens se webwerf te plaas. So kan ons die kinders se ywer en entoesiasme (en idees) met die res van die kerk deel.
Beloning?
- Die grootste beloning is daarin dat die finalejaars betrokke raak by die lotgevalle van ander tieners in hartseer omstandighede sonder om iets in ruil daarvoor te kry. Dit is soms beter om te gee as om te ontvang.
Hulpmiddels
- Die kinders kan gerus met Arina Jooste kontak maak by die kantoor van die Instituut vir idees en materiaal wat hulle sou nodig kry. Sy kan gedurende kantoorure gekontak word by tel no (012) 320-7644.
- U kan ook kontak maak met Diaken Andries Pretorius by die volgende e-pos adres: pta.drom@mweb.co.za
Hierdie twee persone sal al u vrae kan beantwoord en ook hulp verleen waar nodig.
Sluitingsdatum:
- Die projek neem ‘n aanvang op 1 April en eindig op 30 November 2006
Inbetaling?
- Alle gelde word inbetaal by die Raad van Finansies: Die volgende moet saam met die inbetaling vermeld word:
(1) Die naam van die gemeente
(2) Die naam “Projek Bartimeus”Kom ons neem deel aan die projek terwille van ons eie finalejaars en die kinders wat hulp nodig het?
Dit het ook ‘n positiewe effek wanneer van hierdie skole se kore genooi word om op ‘n Sondag voor of na ‘n erediens op te tree. So ‘n projek bring die kinders net nader aan die leefwêreld van hierdie gestremde kinders.
Baie dankie vir die tyd wat u afgestaan het om hierdie brief te lees.
Groete in Christus
Dr WJ Coetzer
Sekretaris: Kommissie van die ADV