Omsendbriewe
12 Januarie 2006
OMSENDBRIEF: ADV 2/2006
Aan: Die Skriba van die Ringskommissie Geagte Skriba en Kommissielede
HULP AAN RING DIAKENSVERGADERINGS
Dit is my voorreg om u as Kommissie ‘n baie geseënde en voorspoedige 2006 toe te wens.
Mag die Heer van die Kerk u ryklik seën met sy genadegawes en mag sy liefde soos dit besing word in die woorde van Gesang 506 vir u as kommissie waar word:
U hulp, u liefde onbegrens laat my van vreugde juig;
U deernis met ‘n dwase mens laat my eerbiedig buig.Genade so oneindig wyd – U skenk dit weer en weer. Dit is die hoogste heerlikheid dat U my liefhet, Heer.
Mag hierdie hoogste heerlikheid van God se liefde vir die sondaar mens deur Jesus Christus in elkeen van ons se lewens die groot motief agter elke woord en daad wees.
Ek neem graag weer, soos in die verlede, die vrymoedigheid om u as Ringskommissie te sensiteer oor die volgende sake wat die diakonaat raak:
- Die diakonaat werk nou vir die eerste keer met verslagvorms wat totaal nuut is. Daar word dan ook van Diakensvergaderings, sowel as van Ringsdiakensvergaderings verwag om sekere statistiek wat in die verslae na vore kom, te verwerk en te interpreteer vir hulle eie unieke omstandighede. Hierdie interpretasie van die demografiese gegewens moet dan weer in aksiestappe omvertaal word. Ek wil u vriendelik dog dringend versoek om die diakens in hierdie proses by te staan. U hulp en ervaring is onontbeerlik om van hierdie beplanningsproses ‘n sukses te maak.
- Daar is ook bepaalde voorstelle van die kant van die Kommissie van die ADV aan die Diakensvergaderings sowel as aan die Ringsdiakensvergaderings gestuur om hulle te stimuleer, om ook wat hulle vergaderings betref, nuut te dink. ‘n Gesprek tussen die Kommissie van die Ring en die Kommissie van die RDV kan dalk net die regte afskop wees vir hierdie belangrike saak.
- Sal u asseblief in u opsig oor die werksaamhede van die RDV u self daarvan vergewis dat die agenda van die Ringsdiakensvergadering uitkoms gedrewe sal wees. Daar word nog te veel vergaderings gehou wat in wese net ‘n vergadering ter wille van ‘n vergadering is.
Ek wil dus by u pleit dat u as Ringskommissie ‘n hulpbron vir die diakens sal wees met hierdie nuwe manier van verslagdoening en die samestelling van ‘n agenda wat uitkomsgedrewe sal wees. Die sleutelwoorde sou konstruktiewe betrokkenheid en positiewe begeleiding kon wees.
Baie dankie vir u positiewe ondersteuning van die diakens in u Ring.
Baie sterkte met u werksaamhede in 2006.
Groete in Christus
Dr WJ Coetzer
Sekretaris: Kommissie van die ADV