Omsendbriewe
12 Januarie 2006
OMSENDBRIEF: ADV 3/2006
Aan: Die Skriba Kommissie van die Ringsdiakensvergadering Geagte Skriba
DIE TEENWOORDIGHEID VAN NHSV LEDE BY RINGSDIAKENSVERGADERINGS VOLGENS ORDINANSIE 3.6.1 ORDEREËL (I) (C)
Dit gebeur dikwels dat Ringsdiakensvergaderings eers tydens die konstituering van die vergadering verneem watter NHSV lede die vergadering bywoon. Dit veroorsaak soms ‘n verleentheid vir die susters wat moet “opstaan” en sê wie hulle verteenwoordig.
Soms is NHSV takke sonder rede afwesig van die vergadering en dit veroorsaak weer ‘n verleentheid vir die diakenafgevaardigdes van die betrokke gemeente wat antwoorde moet gee waaroor hulle nie beskik nie.
Hierdie situasie is nie net ‘n onvergenoegde een vir die Kommissie van die Ringsdiakensvergadering nie maar ook vir die lede van die NHSV. Die wyse waarop die saak tans hanteer word kan ook baie maklik die gevoel by die NHSV laat posvat dat hulle teenwoordigheid nie werklik nodig is nie.
Volgens die bepalings van die Kerkorde kan NHSV lede nie afgevaardig word nie. Daarom is dit net goeie vergaderings etiket om die takke uit te nooi om twee susters as waarnemers na die vergadering te stuur. Etiket vereis ook dat hierdie uitnodiging skriftelik aan elke NHSV tak in die ringsgebied gestuur sal word. Die name van hierdie susters kan dan vooraf in die agenda opgeneem word.
Die Kommissie van die Ringsdiakensvergadering moet waak teen die tendens dat die kerkraad van gemeentes diakens afvaardig om die Ringsdiakensvergadering by te woon en dan sommer so terloops ook vra dat die diakenafgevaardigde ook die NHSV sal verteenwoordig. Hierdie neiging gaan op die langer termyn die kwaliteit van die vergadering nadelig beïnvloed. Die amp van diaken is ‘n selfstandige amp en die NHSV is ‘n selfstandige vroue organisasie in eie reg binne die kerk. In die praktyk van die gemeentes oorvleuel die dienste van die diakens en die NHSV met skitterende resultate. Sonder enige twyfel is die samewerking tussen die diakens en die NHSV op voetsoolvlak van hoogstaande gehalte.
Vir die doeleindes van die vergadering moet die onafhanklikheid van beide groeperinge egter gerespekteer word.
Ek sluit vir u ‘n voorbeeld in van ‘n uitnodiging wat aan die NHSV takke in u ring gestuur kan word. Hierdie is slegs ‘n riglyn en die dokument kan aangepas word na gelang van u eie behoefte en omstandighede.
Ek hoop hierdie uitnodiging stel u in staat om die konstituerende deel van u vergadering vlot te laat verloop en almal van die begin af tuis in die vergadering te laat voel.
Groete in Jesus Christus
Dr WJ Coetzer
Sekretaris: Kommissie van die ADV