Swellendam Werkswinkel:

Tydens die ringsdiakensvergadering van die Ring van Swellendam aan die einde van 2005, het dit aan die lig gekom dat meer as helfte van die lidmate in die Ring ouer is as 60 jaar. Omdat bejaardes hulle eie spesiale behoeftes het, het die vergadering besluit om ‘n werkswinkel te reël en meer in diepte te kyk na die spesiale behoeftes van bejaardes en hoe kan hierdie behoeftes aangespreek word in elke gemeente in die Ring se bedieningsplan.

Op 18 Februarie 2006 het hierdie werkswinkel plaasgevind in Mosselbaai. Agt en veertig diakens, NHSV lede, ouderlinge en lidmate van die vier gemeentes in die ring het die geleentheid bygewoon om saam te dink en na antwoorde te soek op verskeie probleme rondom dienslewering aan bejaardes.

Die Ringsdiakenvergadering van die Ring van Swellendam het besluit om na aanleiding van hierdie werkswinkel wat gehou is in gesprek te tree met die NG Kerk in die Wes-Kaap wat reeds al hierdie dienste aan bejaardes lewer. Die doel van hierdie gesprek is om “in te koop” in die dienste wat deur die NG Kerk gelewer word ten einde hierdie dienste ook aan ons eie lidmate beskikbaar te stel.

Baie dankie aan dr Wilhelm Coetzer en mnr Johan van Huysteen wat hierdie werkswinkel gefasiliteer het. Dit was ‘n groot sukses en ons hoop dat al die planne wat hier gemaak is ‘n werklikheid sal word om so ook aan ons bejaardes wat vir ons baie spesiaal is, ‘n diens te kan lewer.

- Ds Robert Jones

 
 
 
Johan van Huysteen (bestuurder bejaardesorg),
Diak Francois Goosen (voorsitter RDV)
en dr Wilhelm Coetzer (sekretaris ADV)
 
     
 
Kerkgebou van Swellendam Gemeente
 
Afgevaardigdes nuttig middagete